HISTORIESE KRITIEK

HISTORIESE KRITIEK word in die eng sin van die woord beperk tot die domein van Bybelinterpretasie. Dit is ’n wetenskaplike metode om die antieke teks van die Bybel* te verstaan in die lig van die historiese oorsprong, die tyd en plek waarin dit geskryf is, die bronne (indien enige), asook die gebeure, datums, persone, plekke en kulturele gebruike wat in die teks genoem of geïmpliseer word. Die primêre doel is gewoonlik om die bedoeling van die teks in die oorspronklike, historiese konteks te verstaan. ’n Sekondêre doel is om die historiese situasie van die outeur en die ontvangers van die teks en die ware aard van die gebeure waarna die teks verwys, te rekonstrueer.

Die opkoms van historiese kritiek, wat in die 17de eeu begin het en in die 19de en 20ste eeu ’n hoogtepunt bereik het, het ’n groot impak op die bestudering van die Bybel in die moderne tyd gehad. Dit het veral bygedra tot ’n enorme groei in kennis oor die komposisie, veelvlakkige en heterogene karakter van Bybelse geskrifte en die historiese afstand tussen die mense en kulture van die Bybel en moderne lesers. In ’n poging om die “wêreldagterdieteks” so goed as moontlik te rekonstrueer, is historiese kritiek verfyn tot verskillende oor­vleuelende subdissiplines en metodologieë wat onder meer bronnekritiek, vormkritiek, redaksiekritiek en tradisiekritiek in­sluit.

Sidebar