HITLER, ADOLF

HITLER, ADOLF (1889–1945), die latere Führer (leier) van die Derde Duitse Ryk en een van die wêreld se berugste politieke leiers, was ’n Oostenryker van geboorte.

Die eerste helfte van die 20ste eeu is gekenmerk deur verskeie nuwe radikale ideologieë* wat almal na diktatorskappe ge­neig het, soos kommunisme*, fascisme (oordrewe nasionalisme), na­sio­naal-sosialisme* en falangisme (Spaan­se fascistiese beweging). Met die uitsondering van lg, wat hoog opgegee het oor die koningskap van Jesus Christus* met as een van hulle slagkrete: “Lewe Christus, die Koning!”, het hierdie ideologieë die Christelike* geloof* eerder as ’n struikelblok as ’n boublok beskou. Hitler het gevolglik, nadat hy as verbete nasionaal-sosialis Duitse leier geword het, die Katolieke* en Lutherse* kerke in Duitsland onder groot druk geplaas en van hulle leiers het uit die land gewyk.

Tydens die Eerste Wêreldoorlog* (1914–1918) het Hitler ’n ysterkruis vir dapperheid ontvang en ’n bewonderaar van militarisme geword. Ná sy mislukte militêre staatsgreep in 1923 het Hitler in die gevangenis sy bekende Mein Kampf geskryf (1928). Die oorsaak van die Duitse ellende was volgens hom die wêreld se sameswe­ring teen Duitse mag en invloed ná die Eerste Wêreldoorlog, asook die internasio­nale kommunisme* en Sionisme (Joodse godsdienstige nasionalistiese strewe). Die Duitse nasie moes, volgens Hitler, sy Ariese trots herwin en ekonomies opgehef word deur industrialisasie, militarisering en die terugneem van “Duitse grondgebied”. Pres Paul von Hindenburg het Hitler in 1933 teësinnig as rykskanselier aangestel. In 1934 het Hitler alle mag oorgeneem en die destydse Duitse Weimar-republiek beëin­dig. Sy bondgenootskap met Stalin* – ten spyte van sy weersin in die kommunisme! – en sy uitdagende inval in Pole op 1 Sep­tember 1939, het regstreeks tot die Tweede Wêreldoorlog* (1939–1945) gelei. In Junie 1940 verbreek Hitler sy bondgenootskap met Stalin en val Rusland onsuksesvol binne. Hitler se “finale oplossing” om die internasionale Sionisme uit te skakel, was om miljoene Jode* in gaskamers te laat dood­maak. Die uiteinde van die oorlog was dat die Derde Ryk vernietig is. Hitler en Eva Braun, sy minnares, het op 30 April 1945 selfmoord gepleeg.

Hitler het min respek vir die godsdiens gehad, maar hy het dit tot sy voordeel probeer misbruik. So het hy daarin geslaag om die amptelike Duitse Lutherse Kerk en die Katolieke Kerk in ’n groot mate te mani­puleer en die sogenaamde “Duitse Chris­tene” na sy pype te laat dans. Daar het egter ook uit kerklike geledere weerstand gekom – met Dietrich Bonhoeffer* en die sg Belydende Kerk as voorbeelde. (Kyk ook: Barmen-verklaring.)

Sidebar