HOBHOUSE, EMILY

HOBHOUSE, EMILY (1860–1926) is op St Ives, Cornwall, gebore. Ná haar ma se dood ondersteun sy haar Anglikaanse* predi­kant-pa en nadat hy ook oorlede is, vertrek sy na Virginië, VSA, om geestelike werk on­der Korniese mynwerkersfamilies te doen. Met haar terugkeer na Engeland, neem sy kennis van die Jameson-inval (1895) en die gebeure wat aanleiding tot die Anglo-Boereoorlog* gegee het. Met die hulp van invloedryke Britte, stig sy die South African Conciliation Committee wat die Engelse wou oortuig dat vrede in belang van albei partye was. Hulle word as “Pro-Boer” ge­merk en veroordeel. Sy stig die South Afri­can Women and Children Distress Fund om geld vir oorloggeteisterdes in te samel. In 1899 kom sy in Suid-Afrika aan en besoek die Bloemfonteinse konsentrasiekampe. Sy maak voorstelle om die haglike toestande enigsins te verbeter en bring die konsentrasiekamplyding onder die aandag van invloedrykes in Kaapstad en Brittanje. Sy besoek ook ander konsentrasiekampe en spreek haar besorgdheid oor die hoë aantal kindersterftes uit. Hobhouse keer terug na Engeland om hulp te soek, aan die Britse Oorlogskantoor verslag te doen en inligting aan parlementariërs deur te gee. Terug in Kaapstad word sy onder militêre arres ge­plaas en gedeporteer. Met geknakte gesondheid gaan sy na Switserland waar sy Boere­generaals bystaan om kontak met invloed­rykes te maak en sy samel geld vir oorlogs­weduwees in. Sy keer in 1902 na Bloem­fontein terug om die Boere met kompensasie-eise by te staan. Sy stig die Boer Home Industries and Aid Society, ’n skema om Boerevroue in tuisnywerhede op te lei. Tus­­sen 1905 en 1908 stig sy weef-en-spinskole. As waardering vir haar bydrae, word sy ge­nooi om die Vrouemonument in Bloem­fon­tein amptelik in te wy. Onderweg word sy siek. Sy sterf in Londen en haar stoflike oorskot word op 27 Oktober 1926 in die Vrouemonument geplaas.

Vir verdere lees: Rykie van Reenen (red) 1984. Emily Hobhouse Boer War Letters. Kaapstad: Human en Rousseau.

Sidebar