HOËPRIESTER

HOËPRIESTER. 1. Aäron* was die eerste hoëpriester – gekies deur God en in sy amp* aangestel ná ’n reinigings- en salwingsrite. Opvolging geskied hierna in die Aäronitiese geslagslyn en telkens deur die oudste seun. Afgesien van die gewone priesterklere (Eks 28; 39), is daar vier ti­piese kledingstukke van die hoëpriester (Lev 8:7-9): ’n skouerkleed (efod*) van fyn linne, versier met purper en goud; ’n blou geweefde mantel met granaatjies en klokkies; ’n borssak* met twaalf edelstene met die Urim* en Tummim; en die tulband met ’n goue plaat, vasgebind met ’n blou lint. Die hoëpriesterlike drag is telkens aan die opvolger oorgedra.

Slegs die hoëpriester betree een keer per jaar op die Groot Versoendag* die Allerhei­ligste*, omdat Christus* nog nie geopenbaar is nie (Heb 9–10). Hier doen hy, in sy linneklere, boete vir die volk, sprinkel die sondeoffer se bloed op die altaar* en offer wierook (Lev 16) (Kyk by: Reukoffer.) Die skrywer van He­breërs* vergelyk Jesus* met die hoëpriester en verduidelik dat Jesus nader aan Mel­gisedek* se hoëpriesterskap is (Ps 110:4): Hy is sowel priester* as offer* en Hy doen diens in ’n heiligdom wat nie met hande gebou is nie (Heb 7).

 

Sidebar