HOER (HOERERY).

HOER (HOERERY). Hoerery of prosti­tusie* verwys na ’n persoon, meestal ’n vrou*, wat seksuele dienste teen betaling aangebied het, of soms selfs as verwysing na iemand wat skuldig is aan onsedelike* praktyke (Kyk by: Ontug) en veral buitehuwelikse seks* (bv Lev 2:7, 14). In die Ou Testament* word prostitusie konsekwent negatief bejeën. Alhoewel wette daarteen geformuleer is (Lev 19:29), is dit verdra, maar nietemin verag. Priesters* mag nie met prostitute trou nie en indien hulle dogters betrokke is in prostitusie, moes hulle verbrand word (Lev 21:7, 9, 14). Die am­bi­valente houding teenoor prostitute blyk daarin dat hulle hulle op die koning* kon beroep vir regspraak* (1 Kon 3:16), dat nóg Tamar* wat as prostituut opgetree het (Gen 38), nóg Simson* wat ’n prostituut besoek het (Rig 16:1), hieroor veroordeel word, en dat Ragab* (Jos 2; 6) as voorbeeld van wysheid* en geloof* uitgebeeld word. Die algemene veroordeling van prostitusie hang saam met die belangrikheid van va­der­skap, die samelewing se streng moreel-etiese kode, en die huweliksband se simboliek vir die verhouding tussen Jahwe* en sy volk. Paulus* se waarskuwings teen im­mo­raliteit (1 Kor 6:15-16) hang saam met die heiligheid* van die liggaam* as God se tempel* (1 Kor 6:18-20) en was moontlik gemik teen die tempelprostitute* van die Afrodite-kultus. Diegene wat hulle nie weer­hou van prostitusie nie, word uit die hemel* uitgesluit (Op 21:8; 22:15). (Kyk ook: Tempelprostitusie.)

Sidebar