HOFMEYR, GEORGE SEBASTIAAN

HOFMEYR, GEORGE SEBASTIAAN (1945–2009) het ná sy hoërskoolloopbaan aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria, BA-Honneursgrade in geskiedenis en antropologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Hy behaal in 1981 ’n MA in geskiedenis aan die Universiteit van Kaap­stad oor een van talle belangrike aspekte van die amaXhosa* se kleurryke geskiedenis. Hy het hom in die voormalige Ciskeise tuisland, asook by navorsingsinstellings in Kaapstad en Brittanje, in die Xhosa-geskie­denis verdiep en as Xhosa-spesialis onderskei. Hy was vanaf 1970 nagenoeg 30 jaar lank werksaam by die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, waarvan hy vir twaalf jaar die direkteur was. In dié tyd het hy diepgaande aandag gegee aan argitektuur- en erfenisbewaring op nasionale en internasionale vlak.

Nadat Hofmeyr in 2000 met vervroegde pensioen afgetree het, het hy aktief be­trok­ke gebly by kultuur- en bewaringsor­gani­sasies. Hy was ’n geakkrediteerde toeristegids, erfeniskonsultant en vryskutskrywer, en was mede-redakteur of medewerker van verskeie boeke, waaronder die hoofredakteur­skap van die bekroonde NG Kerk 350, ’n koffietafelboek oor 100 hoofmomente in die eerste 350 jaar van die geskiedenis van die NG Kerk* (sedert 1652). Volgens hom is daar talle raakpunte tussen geskiedenis, kerkgeskiedenis en kultuurgeskiedenis, veral wat metodiek betref. Hy was hoofmedewerker: algemene geskiedenis van die Christelike Kernensiklopedie (CKE).                                                 

Sidebar