HOFMEYR, JOHANNES WYNAND (HOFFIE)

HOFMEYR, JOHANNES WYNAND (HOFFIE) (1947–) het aan die Universiteit van Pretoria teologie* studeer, verskeie grade met lof verwerf en as voorsitter van die studenteraad gedien. Hy het sy doktorsgraad in kerkgeskiedenis* in Kampen, Nederland, behaal. Van 1977 af het hy aan Unisa doseer en van 1990 af aan sy alma mater. Hy was sekretaris en voorsitter van die Kerkhistoriese Werkgemeenskap van Suid-Afrika en redakteur en mede-outeur van ’n groot verskeidenheid boeke en artikels – onder meer van die bekroonde NG Kerk 350. Hofmeyr beskryf sy teologiese benadering as geba­lanseerd-behoudend en kommer oor teologiese rigtings in die NG Kerk* dra by tot sy aftrede as UP-professor in 2007 en sy betrokkenheid by die omstrede Evange­liese Inisiatief* wat nie lank bestaan het nie. Ná sy aftrede was hy buitengewone professor by die Universiteit van die Vrystaat, die Liverpool Hope University in Engeland en die Evangelische Theologische Faculteit in Leuven, België. In 2014 het hy die rektor geword van die jong Nkhomo-universiteit in Malawi wat sy oorsprong vind in die NG Kerk* se sendingwerk* waarmee al in 1889 begin is. Dié universiteit het aanvanklik vier fakulteite gehad: Gesondheidswetenskappe, Teologie, Opvoedkunde en Bestuurswetenskappe. Hofmeyr is hoofmedewerker: kerkgeskiedenis van die elektroniese Christelike Kern­ensiklopedie (eCKE).                              

Sidebar