HOFMEYR, STEPHANUS JOHANNES GERHARDUS

HOFMEYR, STEPHANUS JOHANNES GERHARDUS (1839–1905) is in Kaapstad gebore as seun van advokaat Jan Hendrik Hofmeyr. Ná sy bekering* in 1862 voel hy ’n sterk roeping om sendeling* te word. Swak gesondheid verhinder hom om toelating tot die Kweekskool* op Stellenbosch te verkry en hy word in 1863 godsdiensonderwyser. ’n Jaar later vra die Kaapse sen­dingkommissie hom om vir Alexander Mc­Kidd in die Soutpansberg te gaan help en hy vertrek in November 1864 daarheen. Met sy ordening* twee jaar later word hy die eerste gebore Afrikaner* wat as buitelandse sendeling werk. Sy bediening duur 40 jaar. Hy word beskryf as “een van die bekwaamste en toegewydste sendelinge wat die kerk ooit gehad het”. Herlewings onder wit en swart in die Soutpansberg gedurende 1875–1877 lei tot blywende vrug.

Sy werk op Goedgedacht en omgewing bring hom in aanraking met die Buys-gemeenskap en verskeie van hulle word sy helpers, onder andere in sy jarelange strewe om ook die Sjona-mense in die huidige Zimbabwe te bereik. Sewe evangeliste uit Kranspoort-gemeente (vandag VGK*) gaan in 1891 saam met AA Louw* daarheen en word mede-grondleggers van die Reformed Church in Zimbabwe.

Vir verdere lees: WL Maree 1962. Lig in die Soutpansberg. Pretoria: NGKB.

 

Sidebar