HOFMEYR1, JAN HENDRIK (“ONZE JAN”)

HOFMEYR1, JAN HENDRIK (“ONZE JAN”) (1845–1909) is op die plaas Welge­meend aan die voet van Tafelberg gebore. Hoewel hy ’n lojale lidmaat van die (NG) Gemeente Kaapstad was, het hy besondere belangstelling in spiritualisme en vrymesselary geopenbaar. Hy was betrokke by Sondagskoolwerk onder die behoeftiges en het later by die Young Men’s Christian Asso­ciation (YMCA)* aangesluit, asook by die Mutual Improvement Society – later as voor­sitter. Hy was redakteur van die Volks­vriend, deur die Christelike Drukpers Vere­ni­ging uitgegee om liberale teologiese stromings teen te werk. In 1871 het die Volks­vriend met De Zuid-Afrikaan geamalga­meer, waarvan hy tot 1883 redakteur was. Hofmeyr het voortgegaan as redakteur van Het Zuid Afrikaansche Tijdschrift wat die Hollandse taal en kultuur* wou bevorder.

Hofmeyr het parlementslid en leier van die Afrikanerbond (te onderskei van die hedendaagse Afrikanerbond*) geword – wat vir hom belangriker as ’n kabinetsposisie in die Kaapse parlement was. Hy het by twee ge­leenthede die Kaapse premierskap van die hand gewys, soos ook ’n sir-skap. Hofmeyr was bereid tot samewerking met Engels­sprekendes, insluitende Cecil Rhodes*, totdat lg se betrokkenheid by die Jameson-inval in 1896 dié vriendskap vertroebel het. Hofmeyr is potensieel as die eerste premier van die Unie van Suid-Afrika beskou, maar sy dood in Oktober 1909 het dit verhoed.

’n Standbeeld van Hofmeyr deur Anton van Wouw* is in 1920 op Kerkplein in Kaapstad onthul, en ’n Oos-Kaapse dorp is na hom genoem.

Sidebar