HOLISME

HOLISME is die oortuiging dat die geheel van ’n bepaalde saak méér is as die somtotaal van die dele daarvan, dit wil sê, dat die aard van die dele of die verhoudings tussen die dele nie afdoende rekenskap kan gee van die geheel nie en dat die dele nie toereikend verstaan kan word sonder verwysing na die geheel waaraan dit deelneem nie. Al die veranderlikes in ’n holis­tiese sisteem is dus in interaksie met me­kaar. Holisme bied gewoonlik ’n organiese beeld van die geheel en staan meesal deter­minisme* en fatalisme* teen. Die debat in die Engelssprekende wêreld oor die meto­dologie van die geesteswetenskappe stel ho­lis­me teenoor indiwidualisme*, waar laas­genoemde die oortuiging verteenwoordig dat die geheel wel uit die eienskappe van die dele geken kan word. Holisme word egter ook in die epistemologie (kennisleer), kwantumteorie, biologie, semantiek en ander velde voorgestaan.

Hoewel holisme so ver teruggaan as die klassieke Griekse en Indiese denke, is die term as sodanig die eerste keer gebruik deur die Suid-Afrikaanse politikus en filo­soof Jan Smuts* (1870–1950). Hy beskou die heelal as ’n geheel wat ’n skeppende evolu­sie* ondergaan vanaf die fisiese, na die bio­logiese tot die geestelike vlak. Hierdeur ont­wikkel vryheid, persoonlikheid en waardes geleidelik uit determinisme, struktuur en meganiese interaksie.

Vir verdere lees: JC Smuts (1926) 1987. Ho­lism and Evolution. Kaapstad: N&S.

Sidebar