HOMILETIEK / PREEKKUNDE

HOMILETIEK / PREEKKUNDE word as vak aan teologiese fakulteite aangebied waar voornemende predikante* onder meer in preekmaak en preeklewering onderrig word. Die woord homiletiek kom van die Griekse werkwoord homiléÿ. Hierdie woord bete­ken om met iemand te praat. Die bedoe­ling is ook dat die kommunikasierolle omgekeer word. Dit is presies wat daar in die preek* behoort te gebeur: dit is ’n ge­sprek tussen die lewende God en sy ge­meente*. Dit is ’n deelnemende gesprek. In die gesprek word die gemeente aangespoor om na God se Woord* in elke konkrete situasie te luister en daarvolgens te lewe. In die gereformeerde* tradisie is die preek ’n sentrale moment in die erediens*. In die ouer homiletiek was die preekpatroon uitleg (explicatio) en toepassing (applicatio). In die nuwer homiletiek kry die estetiese moment die aandag. Dit beteken dat die preek as ’n gebeure ervaar word. In ’n ge­beure is daar bewegings soos in ’n teater of film.

Die kuns van die preek is om die hoor­ders ook sieners van die Woord te maak. In die preek moet die erediensgangers sien wat gebeur. Dit vra dat die homileet van beelde (prentjies) en ver-beeld-ing gebruik moet maak. Soos dinamiet ruk metafore* nuwe wêrelde oop. Daar is drie trefwoorde vir die maak en lewering van ’n preek: struktuur, tekstuur en postuur. Elke preek moet ’n struktuur hê – nie vormloos wees nie. Dit moet ook oor ’n tekstuur beskik. Hiermee word die eiesoortige beeldtaal van die preek bedoel. Dan moet die preek ook ’n postuur kry. Dit moet lyf kry en erediensgangers as ’n lewende gebeure ontmoet.

Die twee preekvorms wat die meeste voorkom, is die homilie en die narratief. Die homilie bestryk ’n groter teksomvang en volg die teks se spoor sonder om struktuur as eis van die preek prys te gee. Die narratief is die preek in verhaalvorm. Dit beteken nie dat stories die preek vervang nie, maar dat die preek in storievorm aan­gebied word (karakters, ruimte, tyd, spanning, ironie, ens).

Vir verdere lees:

 

 

Sidebar