HOMOSEKSUALITEIT

HOMOSEKSUALITEIT. Homoseksuele praktyke is so oud soos seksualiteit* self. Eeue se sekulêre en religieuse literatuur en kuns bevestig dit. Dit is ook waar dat die vorms van homoseksualiteit en die hou­dings teenoor dié verskynsel tydens bepaal­de historiese tydvakke in bepaalde samele­wings en kulture belangrike verskille vertoon. In Antieke Griekeland is manlike homoseksualiteit as ’n natuurlike gegewe aanvaar en het dit geïntegreerd voorgekom in strukture soos die opvoeding, die weermag, die politiek en selfs die heteroseksuele huwelik*. In die Romeinse kultuur, soos in die Griekse, is liefdesverhoudings tussen mans as meerderwaardig beskou bo dié wat in die huwelik uitgeleef is. Die koms en verspreiding van die Judaïsme* en die Christendom* het gepaard gegaan met ’n totaal nuwe moraliteit* wat in homoseksualiteit ’n euwel gesien het. Tot in die Mid­del­eeue toon die Christendom* egter ’n verbasende verdraagsaamheid. In die Middel­eeue het die kerk* selfs so ver gegaan as om gay-verhoudings te seën. In hierdie periode tree ’n gesindsheidsverandering in en vir ’n paar eeue daarna word homoseksualiteit doelgerig onderdruk en volg drastiese op­tre­de teen sulke praktyke. In 18de-eeuse Ne­derland vind bv nog verskeie mas­sa- en openbare teregstellings plaas van persone wat hulle daaraan skuldig maak. In die 19de eeu versag die houding teenoor homoseksualiteit nadat dit deur sommige as ’n siekte eerder as sonde* beskryf is. (Die term “homoseksualiteit” kom ook uit die 19de eeu; die Bybel* ken nie dié term nie.) In die 20ste eeu, te midde van uiteenlopende stand­punte, word homoseksualiteit al hoe meer as ’n nor­male seksuele variant gesien – as sodanig nóg siekte nóg sonde.

Dit is baie moeilik om presies te sê wat homoseksualiteit is. Byvoorbeeld, nie almal wat homoseksuele ervarings gehad het, is homoseksuele nie. Dit is eweneens waar dat homoseksualiteit nie uitsluitlik beskryf kan word as ’n psigiese geneigdheid nie. Volgens die ontwikkelingsielkunde gaan die meeste mense, indien nie almal nie, deur ’n stadium van homo-geneigdheid. Daar­benewens is almal, ook in hulle volwasse fase, ’n kombinasie van manlike en vroulike, homoseksuele en heteroseksuele komponente. Die antwoord vir die verstaan van homoseksualiteit lê eerder opgesluit in die totale psigo-fisieke struktuur van die persoon. Die volgende definisie sou moontlik kon geld: ’n Homoseksuele oriëntasie verwys na die liefde, emosionele betrok­ken­heid, seksuele aangetrokkenheid en gedrag tussen mense van dieselfde geslag.

Heelwat teorieë is in omloop oor die oor­saak van homoseksualiteit. Die oorsprong word onder meer gesoek in die genet­iese materiaal, die endokriene klier­stelsel, kongenitale defekte, opvoeding en emosionele aanleg. Dit word egter toenemend deur navorsers aanvaar dat homoseksualiteit nie ’n enkel­voudige oorsaak het nie, maar dat aangebore, psigiese en sosiale faktore ’n rol kan speel.

Op eties-kerklike terrein in Suid-Afrika word daar tans indringend debat gevoer oor hierdie saak. Hiermee voeg die kerk hom by die breë kerklike gesprek in ander wêrelddele wat al in die 1960’s op gang gekom het. ’n Belangrike impuls vir die plaaslike debat is die beskerming van gay-regte in die Suid-Afrikaanse Grondwet (1994). Die kerklike standpunt oor homo­sek­sualiteit kan breedweg in drie verdeel word. Die versoenende standpunt wil die navorsing wat dui op ’n konstitusionele oorsprong van die homoseksuele oriëntasie met die Bybelse gegewens versoen. Daar­volgens is die mens se seksuele oriëntasie in al sy variante vorms ’n gawe van God. Nie een van die variasies is as sodanig sondig nie. Dit word alleen sondig wanneer dit buite ’n liefdevolle verhouding uitgeleef word. Die behoudende standpunt steun sterk op die Bybel as objektiewe waarheid en vaste standaard vir morele gedrag. Die verse wat selfdegeslag seks afwys, word letterlik geneem en as ’n altydgeldende norm toege­pas. Die gematigde standpunt toon ’n dubbelslagtigheid. Enersyds word die deelname van gay persone in die kerk en same­lewing aanvaar, andersyds word ge­hui­wer om die kerklike seën aan homoseksuele verhoudings toe te sê. Die homoseksuele oriëntasie word nie veroordeel nie, maar die uitleef daarvan wel. (Kyk ook by: Homeseksuele huwelik/burgerlike verbintenis.)

Vir verdere lees: C Anthonissen en P Oberholzer 2001. Gelowig en gay: Riglyne vir ’n sinvolle dialoog met gay lidmate. Wellington: Lux Verbi.BM. P Germond en SM de Gruchy 1997. Aliens in the Household of God: Homosexuality and Christian Faith in South Africa. Kaapstad: David Philip. J Joubert, EL Conradie, DJ Louw en LA Hurst 1980. Perspektiewe op homoseksualiteit. Durbanville: Boschendal. Jorrie Potgieter 2007. Homoseksualiteit – ’n Skrifgefun­deerde perspektief. Vereeniging: CUM. M van Loggerenberg (red) 2015. GayGelowig ingesluit in die gesprek. Wellington: Bybel-Media.

 

Sidebar