HOOF

HOOF het verskeie betekenisse in die Bybel*. Dit verwys fisiologies na die kopge­deelte van die liggaam* en metafories* na mag* en gesag*.

  1. ‑Die hoof is die bron van lewe (Matt 14:8; Joh 19:30) eerder as die setel van denke, daarom simboliseer die oplig van die hoof (kop) die toebedeling van lewe en sukses (Rig 8:28; Ps 27:6), of die ooreenstemmende verwagting van God (Ps 24:7; Luk 21:28). Die bedekking van die hoof met die hand of as wys op lewensverlies wat betreur word (2 Sam 13:19).
  2. ‑Hoofskap dui metafories op mag en gesag oor ander (Rig 11:11; 2 Sam 22:44). Christus* is die hoof van sy liggaam, die kerk* (Ef 5:23; Kol 2:19), van elke mens (1 Kor 11:3), van die hele wêreld (Ef 1:22) en elke kosmiese krag (Kyk by: Kosmos; Kol 2:10). In die patriargale* samelewing­stelsel is die man sy vrou* se hoof (1 Kor 11:3; Ef 5:23), wat sowel mag as lewe-gewende bron impliseer. Die kerk* is die liggaam* van Christus waarvan Hy die on­los­maakbare hoof is (Ef 4:15) en daar­om rig Hy die groei van die kerk op Hom­self as bron van die wese van die liggaam (1 Kor 10:16) en die voleinding* van haar lewe (Ef 4:15).
Sidebar