HOOGLIED VAN SALOMO (BYBELBOEK)

HOOGLIED VAN SALOMO (BYBELBOEK) kry sy naam van die inleidingsfrase in die Hebreeuse* teks, naamlik sîr hassirîm (“die lied van liedere”, of “die hoogste lied”). Die boek is een van die vyf feesrolle* van die Hebreeuse Bybel, en dit word jaarliks (tot vandag toe) met Paasfees* in die Joodse* tradisie gelees (Kyk by: Megillot).

Dit is onbekend wie die skrywer(s) van die versameling liedere in hierdie boek is. Salomo* word dikwels as skrywer gesien, omdat sy naam reeds in die opskrif van die boek opduik, en ook omdat sy naam heel dikwels in die boek voorkom. Omdat die tema van die boek die liefdesverhouding tussen man en vrou is, en omdat Salomo daarvoor bekend is dat hy baie vrouens gehad het, bly hierdie assosiasie met Salomo voortbestaan.

Die tema van die boek is ongewoon vir die Bybel*. Hierdie boek is die enigste waar­in die tema van die seksuele liefde tus­sen man en vrou voorkom. Die boek be­staan uit ’n hele aantal liedere wat meestal in dialoogvorm is. ’n Man en meisie spreek hulle verlange na en bewondering vir me­kaar in beeldryke taal uit.

Interessant genoeg is daar in die ka­non*geskiedenis nooit getwyfel dat hierdie boek in die Bybel ingesluit moet word nie. Dit hang heel waarskynlik daarmee saam dat die vroeë kerklike tradisie die boek allegories*-tipologies geïnterpreteer het as ’n aanduiding van die verhouding tussen God en die volk Israel*. Hiervolgens sou elke detail in die boek na ’n dieper, geestelike waarheid verwys, en nie na die fisieke aantrekkingskrag van ’n man en meisie op mekaar nie.

Sedert die vroeë Christelike tradisies van uitleg, is die boek al op verskillende manie­re geïnterpreteer. Sommige lees dit as ’n dra­ma waarin twee (of dalk selfs drie) karakters optree. Ander sien dit as ’n huwelikslied. Nog ander wys op die ooreenkomste wat daar tussen hierdie liedere en die Egiptiese liefdespoësie bestaan. Dieselfde motiewe en beeldspraak wat prominent in Hooglied is, word ook in die Egiptiese liedereskat gevind.

Feministiese uitleggers (Kyk by Feminisme) vind dikwels aanklank by die boek, omdat dit duidelik is dat die vrou hier baie meer outonoom en pro­minent voorgestel word. Sommige meen selfs dat die liedere deur vroue ge­skryf kon gewees het. Hoewel die Ou-Testamentiese* tekste meestal ’n manlik-patriargale (Kyk by: Patriargale stelsel) perspektief weerspieël, vind ons in Hooglied dat die vrou geteken word as iemand wat inisiatief neem en aktief betrokke is by die verhouding met haar ge­liefde.

Die boek dui duidelik aan dat die lief­des­verhouding tussen man en vrou, inge­slote die seksuele aspekte daarvan, nie uitgesluit is uit die verwysingsraamwerk van die Bybel nie. Ook hierdie verhouding speel af voor die aangesig van God. Dit is ’n gawe van God wat met verantwoordelik­heid geniet kan word.

Sidebar