HOOP

HOOP is saam met geloof* en liefde* kernwoorde in die Christelike geloof* (1 Kor 13:13). Daar is egter ’n wesenlike verskil tus­sen hoop-in-die-algemeen en Christelike hoop. Hoop-in-die-algemeen is enersyds uiters belangrik maar andersyds heeltemal onseker. “Hoop verloor, alles verloor” sê hoe belangrik dit is. ’n Mens kan eintlik nie reg­tig verder lewe as jy alle hoop verloor het nie. Maar dié hoop is totaal onseker en dit trek ’n mens se aandag af van vandag, die enigste waarvan jy regtig seker is.

Maar die Christelike hoop is iets anders, of eintlik die teendeel. “Die hoop beskaam nie” (Rom 5:5). Dit word merkwaardig geïllustreer in Abraham en Sara se lewe. Hulle het geen hoop meer gehad dat hulle ’n kind kan kry nie. Hulle was stokoud. Hulle het al ’n paar dekades gewag dat God sy belofte sal vervul, en daar het niks gebeur nie (Gen 12–18). Hoe kon hulle nog hoop? “Hulle het teen hoop op hoop geglo” (Rom 4:18 – 1933/1953-Afrikaanse Vertaling). Waar­om? Net God self het die verskil gemaak: Abraham “was ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het” (Rom 4:21). Dit is Gód wat die verskil maak.

Ons “is gered in hoop” (Rom 8:24 – 1933/1953-vertaling). Dit beteken dat ’n wesenlike element in ons redding hoop is. Ons sien dit by die vroeë Christene. Hulle het ’n brandende begeerte (hoop) na die weder­koms* van Christus gehad. God het soveel meer beloof as wat ons nou reeds geniet. Daarom het ons “’n lewende hoop” op ons erfenis wat wag, want dit is ’n “onverganklike, onbesmette, onverwelklike erfenis wat vir ons in die hemel bewaar word” (1 Pet 1:3-4). Ons is die bruid wat na ons Bruide­gom verlang: “Kom!” En Hy antwoord: “Ja, Ek kom gou!” (Op 22:17, 20). Die hoop be­skaam nie.

Vir verdere lees: Adrio König 2014. Hoop ons lewensanker – Om te leef met ware hoop in moeilike tye. Vereeniging: CUM.

 

Sidebar