HORAK, ISAAC GERHARDUS JACOBUS

HORAK, ISAAC GERHARDUS JACOBUS (1833–1914) het sy opleiding aan die SA Kollege (voorloper van die Universiteit van Kaapstad) ontvang en werk daarna as assistent-onderwyser op Swellen­dam. Hy gaan daarna teologie* studeer in Utrecht, Nederland. By sy terugkeer in 1858 aanvaar hy ’n beroep na Mosselbaai.

In Oktober 1887 word Horak saakgelastigde van die Kaapse Kerk*, met die re­dak­teurskap van De Kerkbode (Kyk by: Kerkbode) as byko­mende plig. Terwyl Horak sy verpligtings as saakgelastigde goed nagekom het – hy was bekend as iemand met “grote bezigheidsgave” – was hy geen gebore redakteur nie, en De Kerkbode het in sy tyd ’n laagtepunt bereik ten opsigte van inhoud, ondersteu­ning en status. Hiervoor kan die redakteur nie alleen die blaam dra nie, aangesien hy min ondersteuning van kerkrade en lidmate gekry het. Die blad se inhoud was bra saai. Ten einde die blad te vul, het Horak vryelik van berigte wat reeds in ander media verskyn het, gebruik gemaak. Horak het in April 1892 uitgetree. Hy was so presies dat dit byna ’n spreekwoord geword het om te sê: “Zoo precies als Horak”.

Vir verdere lees: GF Steyn 1945. Eeufees-gedenkboek: NG Gemeente Mosselbaai. Mosselbaai: Mossel Bay Advertiser. André Olivier 1998. Bode op die spoor van die Woord. Kaapstad: Lux Verbi.

Sidebar