HOSEA (PERSOON)

HOSEA (PERSOON). Die naam bete­ken: “Die Here red”. Drie persone is onder hierdie naam bekend.

  1. ‑Die bekendste is die profeet Hosea wat ook ’n Bybelboek geskryf het en in opdrag van die Here met Gomer*, ’n prostituut, moes trou. Hy was ’n boorling van die Noordryk*. Die tyd van sy optrede strek van ongeveer 755 vC tot kort voor Samaria* se val in 722/721 vC. Ná ’n bloeitydperk op sosiaal-politieke en ekonomiese gebied was daar in Hosea se tyd ’n ineenstorting van albei ryke. Van 752 vC tot 732 vC is vier van Israel* se konings in staatsgrepe om die lewe gebring (Hos 7:7; vgl 2 Kon 15:8-30). Amos* was die prediker van God se geregtigheid*, en Hosea die verkondiger van God se onveranderlike liefde*.
  2. ‑Die seun van Ela. Hy was vir nege jaar in Samaria* koning van Israel* (732–724 vC) – die laaste koning vóór die ballingskap* (2 Kon 17:1-6).
  3. –Josua*, die opvolger van Moses*, word in Num 13:8 ook Hosea genoem.

 

Sidebar