HOSEA

HOSEA (BYBELBOEK) is die eerste van die twaalf Klein Profete (Kyk by: Boek van die Twaalf) en vertoon twee letterkundige kenmerke:

  1. Die taalgebruik is voortreflik. Die profesie word omraam deur ’n inleiding (1:1-2a) en ’n naskrif (14:10). Die taalgebruik we­mel van pragtige uitdrukkings, vergely­kings en idiome. Byvoorbeeld: “Efraim* het vir Egipte* gekoer, maar Assirië* toe ge­vlieg” (7:11; vgl 2 Kon 7:4). “As mense wind saai, sal hulle ’n storm oes” (8:7; vgl 10:12-13; 13:15; Job 4:8; Jer 12:13; Gal 6:7). ’n Paar vergelykings is: Efraim is “soos ’n eensame wildedonkie” (8:9; vgl Jer 2:18, 24); “soos ’n jong palmboom” (9:13). Twee idiome is: “… en mooi dinge vir haar sê” = na haar hart praat (2:13); “… in sy mag” = in sy vlerke toegevou (4:19).
  2. Die grondteks van die boek is soms moeilik verstaanbaar (soos 4:4-5; 6:6, 12 en 9:8, 13).

Israel*4 se sondes is kultiese en sosiaal-politieke ontrou. Hulle dien Baäl*, bring afgodsoffers, en neem deel aan tempelpros­titusie*. Hosea se huwelik met ’n ontugtige vrou, Gomer*, tipeer die afvallige verhou­ding tussen Israel* en die Here* (1–3). Die priesters*1 teer op die sondes van die volk (4:8). Sosiaal-polities gaan dit net so erg. Om­dat trou, liefde en toewyding aan die wil van God ontbreek, het vervloeking, moord, diefstal en egbreuk* hand oor hand toegeneem (4:1-2). Israel se regeerders suip en hoereer. Hulle het skande hartstogtelik lief (4:18; 7:5).

Die profete*, en veral Hosea (Kyk by: Hosea [persoon]), handhaaf die eenheid van die ryk. Vanuit die noorde waarsku Hosea Juda* “teen Israel se af­gode­diens” (4:15). Hy weet van die historiese feit dat Juda beslag gelê het op Israel se grond, dat hulle letterlik Israel se “grens­lyne verlê” het (5:10; vgl Deut 19:14; 27:1). Ten spyte van al die sondes van die twee ryke, sal “Judeërs en Israeliete” uiteindelik “één word” (1:11; vgl Jes 11:12-13; Jer 3:18).

Die aangrypende deel van Hosea se pre­di­king is dat die Here Hom in liefde oor sy volk ontferm. Hierdie gesigspunt is verweef met die oordeelsverkondigings, maar vind sy hoogtepunt in hoofstuk 11 en 14. In 11:8 vra die Here: “Hoe kan Ek jou prysgee, Efraim?” En in 14:5 sê Hy: “Ek sal hulle on­trou genees. Ek sal hulle van harte liefhê.”

Uitsprake van Hosea word in die Nuwe Testament* aangehaal: 1:10 in Rom 9:26; 2:22 in Rom 9:25; 10:8 in Luk 23:30 en Op 9:6; 11:1 in Matt 2:15, en 13:14 in 1 Kor 15:55. Uit ’n Christelike perspektief sou ’n mens kon sê dat die kern van Hosea se liefdesver­kondiging in Christus* ontsluit word (Joh 3:16, 36; 5:24; Rom 5:8; 8:32; 1 Joh 2:2; 3:1; 4:9-10).

Vir verdere lees: W Vosloo 2006. Die boek Hosea. Wellington: NG Kerk-uitgewers.

 

Sidebar