HUDDLESTON, TREVOR

HUDDLESTON, TREVOR (1913–1998) was Anglikaanse* aartsbiskop en ’n anti-apartheid*-aktivis. Volgens Desmond Tutu* het Huddleston die wêreld se gewete aangegryp en “he made sure the apartheid issue remained on the world’s agenda as a moral issue”. Huddleston was stigterslid van die Britse Anti-Apartheid Movement en sedert 1981 president daarvan. Dié beweging het ’n intensiewe kampanje gevoer vir die beëindiging van Suid-Afrika se politieke sisteem van rassesegregasie. As priester*2 is hy na Suid-Afrika ge­stuur (1943) om die Anglikaanse sending*bediening in twee van Johannesburg se voor­stede te lei. Sy beginselstandpunt was dat die staat ter wille van die indiwidu bestaan en nie die individu ter wille van die staat nie; ook dat vooroordeel ten opsigte van ras en kleur ’n demoniese aantasting van menswaardigheid is, ipso facto ’n beledi­ging van God self en onversoenbaar met die evangelie*. Hy het van die kansel af, in howe en deur die pers die regering se rasgebaseerde beleid en die paswet geopponeer. Gedurende 1954 was hy heftig in opstand teen twee sake: die een om die inwoners van Sophiatown na Meadowlands te verskuif; die ander die destydse Bantoeonder­wys­beleid, wat syns insiens minderwaardige onderrig vir swart leerders beteken het. Huddleston het ’n kulturele boikot teen Suid-Afrika bepleit en is bekend vir sy boek, Naught for Your Comfort.

Vir verdere lees: P McGrandle 2004. Trevor Huddleston: Turbulent Priest. Lon­den, New York: Continuum. DD Honoré 1988. Trevor Huddleston: Essays on his Life and Work. Londen: Oxford University Press.

 

Sidebar