HUGENOTE

HUGENOTE (Frans: Huguenot; Duits: Eidgenoss = eedgenoot) is die skeldnaam wat deur die Katolieke* vir die Franse Protestante* gebruik is.

Op 31 Oktober 1517 het Martin Luther* sy 95 stellings teen die deur van die Kasteel­kerk in Wittenberg vasgesit. In 1519 is die Universiteit van Parys, as een van drie universiteite, gevra om Luther se werke te be­oordeel. Op hierdie manier het Luther se werke ook in Frankryk beskikbaar geword en is baie mense geraak deur die evangelie­se* boodskap daarvan. Dit was egter ook die geboorte-uur van die vervolging van ge­re­formeerd*gesindes in Frankryk. In 1525 is boeke van die sg “nuwe religie” voor die Notre Dame-katedraal in Parys verbrand en in 1545 is ’n groot aantal Prote­stante in Meaux om die lewe gebring. Intus­sen het Johannes Calvyn* na vore gekom en as geestelike leier begin optree vir sy Franse landgenote. Teen 1557 is die eerste vorm van ’n geloofsbelydenis* opgestel en in Mei 1559 is die eerste gereformeerde sinode* in die grootste geheimhouding in Parys gehou – by hierdie sinode is ’n ge­loofsbelydenis en ’n kerkorde* opgestel vir die gereformeerde kerke in Frankryk. Beide dokumente het die invloed van Calvyn weerspieël.

Van 1562 tot 1598 het ’n reeks bloedige godsdiensoorloë in Frankryk losgebars waarin die Katolieke, as die amptelike gods­­diens in Frankryk, teen die gerefor­meerd-gesindes, die Calviniste soos hulle ook genoem is, geveg het. Gedurende dié tyd van godsdiensoorloë, het op 23 Augus­tus 1572 die Bartolomeusnag*-moorde in Pa­rys en in die res van Frankryk plaasge­vind. Hierdie gebeure het aanleiding gegee tot drie belangrike geskrifte oor die regte van onderdane teenoor heersers: die Fran­co-Gallia van Francois Hotman (1573), die De Jure Magistratum van Theodor Beza* (1574) en die Vindiciae contra Tyran­nos van Philip du Plessis Mornay (1579).

Op 13 April 1598 het koning Henry IV, wat ter wille van die koningskap weer ’n Katoliek geword het, die beroemde Edik van Nantes* uitgevaardig waarin bepaalde regte aan die gereformeerdes in Frankryk toe­ge­staan is. Dit was ’n merkwaardige do­ku­ment wat ’n sterk voorloper is van he­den­daagse godsdiensvryheid*. ’n Groot aantal regte soos vryheid van aanbidding, sekere vrystede, die reg tot skoolonderrig, teologiese seminariums, die hou van sino­des en so meer is aan die Hugenote toege­staan.

Teen 1661 het Lodewyk XIV – ’n voorstander van die Katolieke Kerk as die enigste kerk in Frankryk en van die absolute mag van die koning – egter begin om deur wetgewing al hoe strenger teen die Hugenote op te tree. Uiteindelik, op 15 Oktober 1685, is die Edik van Nantes herroep en het die gereformeerde godsdiens ’n verbode godsdiens in Frankryk geword (Kyk ook: Inkwi­sisie). Met die dood van Lodewyk XIV in 1715 het “die kerk van die woesteny” – die verbode kerk – reeds weer in die geheim ’n eerste sinode gehou. Dit was egter eers laat in die 18de eeu, teen die tyd van die Franse Rewolusie*, dat die gereformeerdes weer amptelik toegelaat is.

Intussen, deur al die jare heen, maar veral ná die herroeping van die Edik van Nantes, het duisende Hugenote uit Fran­k­ryk gevlug na talle lande in Europa waar­onder veral Duitsland, Engeland en Neder­land. Vanaf hierdie lande en ander, het hulle oor die hele wêreld verspreid geraak – ook na die suidpunt van Afrika waar die eerste Hugenote as deel van ’n amptelike kolonisasiepoging deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC)* in 1688 aange­kom het. Vandag word hulle steeds in dank­baarheid onthou deur onder meer die Hugenote-vereniging, die Hugenote-ge­denk­museum en die Hugenote-gedenkteken op Franschhoek. Die Hugenote-kol­lege* en die Hugenote-skole op Wellington en Springs, en die Hugenote-tonnel naby die Paarl, herinner ook hieraan. (Kyk ook: Steynberg, Coert.)

Vir verdere lees: P Coertzen 1988. Die Hugenote van SuidAfrika 16881988: Gedenkboek by die 300jarige koms van die Hugenote na SuidAfrika. Kaapstad: Tafelberg.

Sidebar