HUGO, DANIËL JOHANNES

HUGO, DANIËL JOHANNES (1955–), predikantseun en invloedryke Afrikaanse digter, dig aanvanklik in die volgstroom van DJ Opperman* met sy versvorms, verssoorte, rymskemas, strukture, beeldvorming en temas. Sy eerste verse verskyn saam met dié van drie ander digters in Brekfis met vier (1981), en daarna publiseer hy heelparty bundels, waaronder Buitekamer­klanke (1983), Verse van die ongeloof (1989), Monnikewerk (1995) en Die twaalfde letter (2002). Godsdiens kom op verskillende maniere in Hugo se werk ter sprake – meermale tong-in-die-kies, dikwels as ’n buitestander wat teen wil en dank binnestander bly. So skryf hy al in 1989 Verse van die ongeloof. Die “ongelowige” digter, blyk dit in “Onteologies”, kan nie van die teologiese en godsdienstige tradisie loskom nie, want “die ongeloof be­staan by grasie / van troebel terme uit die teologie”. “Selfs as hy hom moeisaam van die tradisionele imitatio Christi (navolging van Christus*) wil losmaak en as ’n mutasie van Christus sy eie kruis wil dra, blyk reeds uit die geykte idioom (“elke huis het sy kruis”) hoe hy in tradisionele voorstellings vasgevang sit”, skryf JC Kannemeyer.

Vir verdere lees: JC Kannemeyer 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652–2004. Kaap­stad: Human en Rousseau.            

Sidebar