HUGO, HÉLÈNE

HUGO, HÉLÈNE (??-??) Die name van twee vroue, Margaretha Hugo (eggenote van eerw HC Hugo) en haar dogter, Hélène, sal altyd onthou word wanneer daar oor die werk wat onder blindes in Zimbabwe gedoen is, gepraat word. In 1927 het Margaretha Hugo vir ’n handjievol blinde leerlinge op Chibi (die sendingstasie waar sy en haar man gewerk het) begin skool hou. In 1934 het Hélène haar ma kom bystaan – en toe haar ouers kort daarna, met hulle aftrede, die stasie verlaat het, moes Hélène Hugo die werk op haar skouers neem. In 1939 is die Margaretha Hugo-skool vir Blindes na Copota, op die Zimuto-sendingplaas (16 km van Masvingo af), verskuif. Die skool, met sy eie braille-drukpers, het deur die jare bekendheid verwerf – nie net vir die akademiese werk wat gedoen is nie, maar veral ook vir die Copota-koor met hulle pragtige sang. In 1952 het die koloniale owerheid Hélène Hugo met ’n MBE-toekenning vereer. Met haar aftrede in 1969 het die blindes op Copota versoek dat sy haar op Copota moes vestig. Sy het haar lewe aan hulle gewy, en nou sou hulle haar oppas, was hulle boodskap aan haar.

Sidebar