HUISGEMEENTE

HUISGEMEENTE. Die eerste gemeen­tes* in die Nuwe Testament* was almal huisgemeentes. Die rede hiervoor was dat die eerste gemeentes uit Joodse* Christene* bestaan het, met as oorspronklike plek van aanbidding die sinagoge* – selfs nadat hulle tot die oortuiging gekom het dat Jesus* die Messias* is. Joodse Christene het waarskynlik vir ’n geruime tyd sowel sinagogedienste as Joods-Christelike huisbyeenkomste bygewoon. Waar hulle uit die sinagoge uitgesit is, het die huisbyeenkomste die middel­punt van hulle godsdiens* geword. Om ’n gebou te koop, te huur of te bou, was buite die finansiële vermoë van die vroegste Christene. Bowendien was die meeste van die sinagoges in Jesus se tyd ’n vertrek in ’n huis. Geboue wat slegs as sinagoges gedien het, was in die 1ste eeu nC baie skaars, volgens sommige geleerdes slegs in Egipte* te vind. Christen-huisgemeentes het waar­skyn­lik in huise van ryker lidmate wat in ’n natuurlike posisie was om as konve­nors/leiers op te tree, vergader. Hulle in­vloed was aanvanklik deurslaggewend ten opsigte van praktiese reëlings – tyd en lengte van byeenkomste, wie die leiding sou neem en ook wie byeenkomste kon bywoon. Soms ontwikkel dit om ook geestelike gesag in te sluit. Stefanas* (1 Kor 16:15), Akwila* en Priscilla* (1 Kor 16:19) is voorbeelde van sulke huiseienaar-leiers.

 

Sidebar