HUISGODE

HUISGODE is ’n vertalingsmoontlikheid vir die Hebreeuse* woord teraf¥m, wat meestal vertaal word as “afgodsbeelde”. Dié beelde het ’n sentrale rol gespeel in die fa­miliegodsdiens van Israel*, maar dit is nie baie seker presies hoe nie. Daar is baie godebeeldjies van klei en metaal in die opgrawing van stede in Israel gevind, veral van godinne. Die amptelike tempelteologie van Jerusalem*, wat verwoord word in talle Bybelse* tekste, beklemtoon die eksklusiwiteit van die Jerusalemse tempel*. Dit is die enigste (wettige) heiligdom, waar die enigste God deur sy uitverkore volk vereer moet word. Die ryk verskeidenheid van profetiese uitsprake teen afgode en ander heilige plekke, bevestig die argeologiese in­lig­ting dat hierdie verskynsels wel voor­gekom het. Belangrike verhale oor huisgode sluit in: Ragel* wat haar pa se huisgode steel en saam neem Kanaän* toe (Gen 31), Miga wat ’n privaattempel met huisgode en ’n eie priester*1 onderhou het (Rig 17), Mikal wat Dawid* se lewe gered het deur ’n godsbeeld in sy bed te versteek, sodat hy kon ontvlug (1 Sam 19). Kritiek op afgodsbeelde word spesifiek uitgespreek deur Samuel* (1 Sam 15:23), Hosea* (3:4) en Sagaria* (10:2). Koning Josia* se kultussui­wering het ook die verwydering van alle afgodsbeelde ingesluit (2 Kon 23:24).

Vir verdere lees: WG Dever 2005. Did God have a Wife? Archaeology and Folk Religion in Ancient Israel. Grand Rapids: Eerdmans. O Keel en C Uehlinger 1998. Gods, Goddesses, and Images of God in Ancient Israel. Minneapolis: Fortress.

 

Sidebar