HUISKERKE

HUISKERKE is ’n naam waarmee dikwels na die gemeentes* in die Nuwe Testa­ment* verwys word. (Kyk by: Huisgemeente.) Gelowiges het ge­woon­lik in huise byeengekom. Paulus* skryf bv “aan die gemeente wat gereeld in jou huis bymekaar kom” (Filem vers 2). Enkele teoloë beskou dit nie net as ideaal vir die kerk nie, maar as norm. Meeste erken egter dat hierdie vorm van byeen-wees nie tot geldende norm vir alle gelowiges van alle tye verhef kan word nie.

Huiskerke word in ons tyd selde, indien ooit, los van ander begrippe soos “kleingroep”, “omgeegroep*”, “selgroep*”, “selgemeente”, “selkerk” bespreek. Die gemeenskaplike in al hierdie begrippe is die verhoudings tussen ’n kleiner groep mense. Die beweging in hierdie rigting word meermale gesien as ’n reaksie op onpersoonlike groot gemeentes binne sekere denomina­sies. Die huiskerk-beweging self is gesneller deur die jeugrewolusie in Europa en die VSA gedurende die 1960’s. Kenmerkend van hierdie rewolusie was die verwerping deur die jeug van, soos hulle dit beskou het, die oppervlakkigheid en oneerlikheid (“phoniness”) van die gevestigde gemeenskappe (“establishment”). Van die bekendste ge­meen­tes wat hieruit ontstaan het, het in­der­daad “huiskerke” gevestig wat hulle vir ’n geruime tyd “communes” genoem het. Wat anders was as in die tyd van die Nuwe Testament, was dat hierdie groepe gelo­wiges nie net in huise byeengekom het nie, maar saam onder een dak geleef het.

Huiskerke word soms ook selkerke ge­noem. Laasgenoemde word weer onderskei van wat in Suid-Afrika bekend staan as “selgemeentes”. Huiskerke wil gesien word as volledige kerke. Weliswaar klein, vind alles hier plaas wat in groter gemeentes ge­beur: doop*, nagmaal*, prediking* (onderrig) en nog meer.

Sidebar