HUISTAFELS

HUISTAFELS is Skrifgedeeltes in die Nu­we Testament* waarin etiese riglyne vir verskillende lede van ’n antieke huishouding gegee word, bv Kol 3:18–4:1, Ef 5:21–6:9, 1 Pet 2:19–3:7. Daar is ’n redelike kon­sensus onder geleerdes dat die huista­fels tradisionele materiaal is, met ander woorde dat die skrywers nie hulle eie oorspronklike riglyne formuleer nie, maar riglyne aanhaal wat hulle uit ander bronne kry. Dié bronne was bv Stoïsynse* filosowe of Hellenistiese* Jode*, en was nie noodwendig skriftelik nie, dikwels monde­lings. Indien dit so is, ontstaan die vraag of die huistafels se etiese riglyne werklik Chris­telik* is, en of dit nie wesenlik Stoïsyns of Joods is nie. Sommige antwoord hierop ja – wat hulle die ruimte gee om te argumenteer dat bv die huistafels se riglyne aan slawe* en vroue* om onderdanig te wees, nie regtig Paulus* of Petrus* se siening weergee nie. Hierdie argument moet afgewys word. Waarom sou Bybel­skry­wers materiaal aanhaal waarmee hulle nie saamstem nie? Daarby wys ’n nou­keurige lees dat in die Bybelse* huistafels spesifieke Christelike elemente ingebou is – die kwalifikasie “in die Here*” en die beginsel van wederkerigheid – mans en vroue moet aan mekaar onderdanig wees (Ef 3:21), nie net slawe het pligte nie, ook eienaars (Kol 4:1).

Vir verdere lees: JE Crouch 1972. The Origin and Intention of the Colossian Haustafel. Göttingen: Vandenhoeck & Ruprecht.

Sidebar