HUMANISME, CHRISTELIKE

HUMANISME, CHRISTELIKE. In Suid-Afrika is John de Gruchy* die eksponent van wat hy “Christelike humanisme” noem. In sy boek, Being human – Confessions of a Christian humanist (2006; in 2008 bekroon met die Andrew Murray-Desmond Tutuprys*), skryf De Gruchy die volgende kenmerke aan Christelike humanisme toe:

  1. Christelike humanisme bevestig die integriteit van die skepping en besef dat menslike lewe gewortel is in en afhanklik is van die aarde. Christen-humaniste is besorg oor die welwese van die aarde as deel van die heelal. 2. Christelike humanisme aanvaar dat ons ’n gemeenskaplike menslik­heid deel met alle ander mense. Die erkenning van ons gemeenskaplike menslikheid, beteken ook die aanvaarding van verskeidenheid. 3. Christelike humanisme glo dat ons moet saamwerk met “sekulêre” huma­niste en mense van ander gelowe in die stryd vir menseregte*, vryheid*, waardigheid, geregtigheid* en vrede*, en die ontwikkeling van ’n volhoubare omgewingsbeleid (Kyk by: Ekologie en godsdiens). Chris­ten-humaniste huldig egter ’n eiesoortige humanisme wat gevorm word deur geloof in Christus*. Om ’n Christen-humanis te wees, beteken dat ’n mens verbind is aan menslike waardigheid, regte en vryheid en dat jy op stuk van sake hoop vir die mensdom het; en om ’n Christen-humanis te wees, beteken dat dit alles onlosmaaklik verbonde is aan jou geloof* in Jesus* Christus. 4. Christelike humanisme glo dat die redding wat ons in Christus het, ons nie meer godsdienstig maak nie, maar meer volledig méns laat word – dat jy meer en meer word soos jy as mens bedoel is om te wees. 5. Christelike humanisme glo dat die kerk ’n versinnebeelding moet wees van die “nuwe mensheid” wat God tot stand gebring het deur die dood en opstanding* van Christus. Christen-humaniste wil daarom lewe, optree en hoop op maniere wat menslike welwese in al sy dimensies bevorder. Chris­ten-humaniste is in hulle benadering ekumenies* eerder as eng-kerklik. 6. Chris­te­like humaniste het waardering vir verskille, maar is gebonde aan die waarheid; het ’n passie vir geregtigheid en vrede wat alle ander lojaliteite te bowe gaan; en het ’n sin vir die estetiese wat skoonheid waar­deer en kreatiwiteit aanmoedig.

Vir verdere lees: John W de Gruchy 2006. Being human – Confessions of a Christian humanist. Londen: SCM Press.         

Sidebar