HUMANISME

HUMANISME is oor die algemeen enige op­trede of gesindheid wat menslike waar­des en humanitêre hulp hoog ag. Tegnies verwys dit egter na veral drie historiese bewegings.

  1. ‑Humanisme verwys eerstens, en soms in die besonder, na die uitdrukkingsvorm van die geesteslewe en sosio-kulturele uit­werking van die Renaissance* (onge­veer 14de tot 17de eeu). Dit staan ’n model van menslike vorming en verbetering voor wat geskoei is op die herontdekte Grieks-Romeinse kultuur en die studie van die menswetenskappe (huma­niora). Hoewel dit in opposisie met teologiese denkvorms ontstaan, staan dit dikwels ten dienste van die teologie*. Op­voeding speel ’n sentrale rol in huma­nisme, omdat geleerdheid noodwendig sou lei tot die verwesenliking van die mens se intellektuele, estetiese, godsdiens­tige en etiese potensiaal. Polities is humanisme meesal pasifisties (Kyk by: Pasifisme) en eku­me­nies*. Aangesien die belang van die mensdom belangriker geag word as eie, plaaslike politieke voordeel, word die balans van die magte in die staat* as belangrik be­skou en is humanisme soms ook kosmopolities.
  2. ‑Die nuwe humanisme van die (veral Duitse) Verligting* (18de en 19de eeu) leen eweneens by die antieke kultuur, maar staan vryer van die Christelike teologie. Vorming deur opvoeding (Bil­dung) maak die mens vry van opgelegde perke en lei tot die verwerkliking van ’n mensheidsideaal. So lei die verbetering van die indiwidu tot die vooruitgang van die mensdom.
  3. ‑Met oorspronge in die Franse Verligting* en Marx* se humanisme-kritiek, neem die humanisme van die 20ste eeu ’n meer politieke en dikwels sekulêre aard aan. Nou vind die beweging aansluiting by die humanisme-kritiek wat van die 19de eeu af uit die teologie*, sowel as die filo­sofie, gerig word teen onder andere die elitisme en die selfgenoegsaamheid van die indiwidu, die nieu-heidendom en po­li­tieke nalatigheid van die vroeëre humanisme.
Sidebar