HURLEY, DENIS EUGENE

HURLEY, DENIS EUGENE (1915–2004), Katolieke* aartsbiskop van Durban (1952–1992), het as kind vier jaar op Robbenei­land gewoon waar sy pa die vuurtoring be­man het. Ná sy skoolopleiding in Pieterma­ritzburg, en onder invloed van sy diep godsdienstige Ierse ma, word hy lid van ’n Katolieke sendingorde, die Oblates of Mary Immaculate (OMI), en word in 1938 in Rome as priester*2 georden. Op ouderdom 31 word hy biskop* van Durban – destyds die jongste Katolieke biskop. In 1951 word hy voorsitter van die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppe-konferensie. Sy statuur as teoloog blyk daaruit dat hy in 1962 deur pous Johannes XXIII benoem is as een van slegs 25 teoloë in die voorbereidingskommissie vir die Tweede Vatikaanse Konsilie*. Toe Suid-Afrika se eerste kardinaal* aange­stel moes word, is Denis Hurley oor die hoof gesien – moontlik vanweë sy “verligte”sienings oor geboortebeperking, die gebruik van kondome, ordening* van vroue* en of pries­ters mag trou. Hy was een van die eerste kerkleiers wat apartheid* veroordeel het en dit in sy pastorale briewe as inherent boos bestempel het. Ná sy aftrede as aartsbiskop in 1992, was hy die kanselier van die Universiteit van Natal (1993–1998). Tot met sy dood was hy priester in die Emmanuel-katedraal in Durban. ’n Biografie oor Hurley deur Paddy Kearney (sien hieronder) is in 2010 met die Andrew Murray-Desmond Tutuprys* bekroon.

     Vir verdere lees: Paddy Kearney 2009. Guardian of the Light. Continuum: Pietermaritzburg, Londen

 

Sidebar