HUTTER, JACOB

HUTTER, JACOB (?–1536) was ’n hoedemaker uit Suid-Tirool (vandag Noord-Italië) en die leier van ’n radikale Christelike* be­we­ging wat soos ’n veldbrand deur die Duitssprekende dele van Europa versprei het. Hy het sy volgelinge veral uit die Kato­lieke Kerk* van daardie tyd getrek. Duisende mense het hulle (groot) laat doop* (wat destyds met die dood strafbaar was). In Morawië (van die Tjeggiese Republiek) was daar godsdiensvryheid*. Hier het die Anaba­p­tiste*, soos hulle hulleself genoem het, onder Hutter se leierskap saamgetrek. Hulle het hulle eiendom gemeenskaplik besit en geglo aan nie-gewelddadigheid en die grootdoop. Hutter het dikwels na Tirool teruggegaan om te preek en te doop. In 1535 is hy gearresteer en daarna gemartel en vroeg die volgende jaar op ’n brandstapel tereggestel.

Vandag nog woon die Hutteriete op groot gemeenskapsplase van 2 000 tot 3 500 ha. Elke gesin woon in hulle eie huis wat deel van ’n groot kompleks uitmaak. Al­mal moet egter elke dag die drie maaltye saam by die gemeenskaplike kombuis eet. Hulle moet ook elke dag die kerk besoek.

 

Sidebar