HUWELIK

HUWELIK. In die Christelike kerk* se verstaan van die huwelik het Jesus* se antwoord op die vraag van ’n Fariseër* of ’n man sommer oor enige ding van sy vrou* mag skei, nog altyd ’n sentrale rol gespeel: “Het julle nie gelees dat die Skepper hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie? … Daarom sal ’n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe en hulle twee sal een wees. Hulle is dus nie meer twee nie, maar een. Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie”(Matt 19:4,5; vgl ook Mark 10:5-9). Op grond van hierdie uitleg van Jesus van die verhaal van God se skepping van die mens in Gen 2, het alle hoofstroomkerke aanvaar dat die huwelik ’n instelling van God is waar een man en een vrou lewenslank met mekaar verbind word. In die lig van onder andere Ef 5:22-24 is tradisioneel deur die kerk* aanvaar dat die man die hoof van die vrou is en die leiding in die huwelik moet neem. Vir meer as ’n millennium is in die kerk die verwekking en opvoeding van kinders as die hoofdoel van die huwelik beskou. Sedert die Hervorming* is daar egter steeds meer erkenning gegee aan die huwelik as die Godgegewe ruimte vir die uitlewing van seksuele behoeftes (Kyk by: Geslagsgemeenskap; Seksualiteit) en vir onderlinge bystand en kameraadskap. Die kerk het van die begin af aanvaar dat daar in die huwelik as ’n lewensverbintenis geen plek vir seksuele gemeenskap met derde partye is nie. Seksuele gemeenskap buite die huwelik is as egbreuk* beskou en ten sterkste veroordeel. Egskeiding* is ewe-eens streng veroordeel as iets wat uitdruklik deur Jesus verbied is. Die Katolieke Kerk* en sommige kerke met ’n evangelikale inslag (Kyk by: Spritualiteitsmodelle: evangeliese spiritualiteit) het selfs so ver gegaan om te weier om die egskeiding van lidmate te erken en hulle in ’n tweede huwelik te bevestig. Tot diep in die 20ste eeu het die meeste Protestantse* hoofstroomkerke geleer dat egskeiding slegs op grond van die egbreuk van die huweliksmaat, of die aandrang van ’n ongelowige huweliksmaat, toegestaan mag word.

Sedert die tweede helfte van die 20ste eeu het die tradisioneel-Christelike opvatting van die huwelik egter toenemend onder druk gekom. Die toename in egskeidings in Westerse lande, ook onder lidmate van kerke, het die vraag opgewerp in hoeverre dit nog sinvol is om te verwag/vereis dat diegene wat trou, lewenslank trou aan mekaar sal bly. Die klem op gelyke menseregte*, die toenemende aantal vroue in die werkplek en hulle groter finansiële onafhanklikheid, het tot gevolg gehad dat die beskouing dat die man die hoof van sy vrou is, steeds meer onder skoot gekom het. Steeds meer paartjies in veral die Westerse wêreld meen dat saamwonery ’n aanvaarbare alternatief vir die tradisionele huwelik is. Sommige van die paartjies trou uiteindelik wel, maar eers as hulle oordeel dat hulle verhouding die toets van die tyd deurstaan het en as daar kinders op pad is. Die toenemende druk van homoseksuele* lidmate om die erkenning van hulle reg op huweliksluiting, het in baie kerke, ook in Suid-Afrika, tot heftige debatte en selfs verdeeldheid aanleiding gegee. Die uitdaging waarvoor die kerke in die 21ste eeu staan, is om ’n betekenisvolle interpretasie van oorgelewerde Christelike oortuigings aangaande die huwelik in radikaal veranderde omstandighede te gee.

Vir verdere lees: S Grenz 1990. Sexual ethics: A biblical perspective. Dallas: Word.

 

Sidebar