HUWELIKSVOORBEREIDING

HUWELIKSVOORBEREIDING kan ge­sien word as die beradingsproses waarby ’n pastor of terapeut en ’n voornemende egpaar betrokke is. Dit kan ook in ’n ruimer sin verstaan word as die begeleiding van jongmense en nog-nie-getroudes om bete­ke­nis­volle verhoudings aan te knoop wat kan uitloop op ’n huwelik*.

As die ontwikkeling van huweliksvoorbereiding (in die enger sin van die woord) op kerklike terrein tydens die 20ste eeu in oënskou geneem word, lyk dit asof hierdie handeling aanvanklik gemotiveer is uit die kerk se besorgdheid om die huwelik as instelling te beskerm en nie uit ’n pastorale bewoëndheid oor indiwidue en hulle verhoudings nie. Die rol wat die pastor in huweliksvoorbereiding gespeel het, was om instruksie te gee oor die aard van die huwelik en om, met inagneming van die kerk se riglyne oor besware teen ’n geldige huwelik, oor die geskiktheid van ’n paartjie vir ’n huwelik te oordeel. Dit was ook genoem “huwelikskategese”. Ná die opbloei van die pastorale psigologie tydens die 1950’s verskuif die fokus na die paartjie se verhou­ding en word gekonsentreer op die bevor­de­ring van interaksie deur oop en vrye kommunikasie.

Soms word van omvattende programme gebruik gemaak waar pare in groepe oor ’n aantal sessies begelei word. Soms is dit net ’n enkele gesprek tussen ’n paar en die huweliksbevestiger.

Vir verdere lees: DJ Louw 1983. Versoe­ning in die huwelik. Durban: Butterworth. J Patton en B Childs 1988. Christian Marriage and Family: Caring for our Generations. Nashville: Abingdon.

Sidebar