HYBELS, WILLIAM (BILL)

HYBELS, WILLIAM (BILL) (1952–) is in Kalamazoo, Michigan, gebore en het sy teologiese opleiding – en later ’n eredoktorsgraad – by Trinity Evangelical Divinity School gekry. Ná ’n uitdaging aan die klas deur een van die dosente dat hulle hulle moet beywer vir ’n Handelinge 2-gemeente, het hy sy sakeplanne vir die bediening verruil. In die vroeë 1970’s, terwyl hy jeugleraar van die Reformed Church in Chicago was, het hy en ’n vriend met ’n jeuggroep “Son City” begin. Moderne musiek, drama en multimedia is ingespan om kerklose jongmense te trek. Binne drie jaar het die groep tot 1 200 gegroei. Daarna het hy met sy eie kerk begin, Willow Creek Community Church, wat die klem op kerklose en kerklos-mense laat val. Hy noem sy bediening “seeker sensitive”. Teen 2000 het reeds 15 000 mense die dienste op ’n Sondag bygewoon, waarvan ongeveer die helfte lidmate was. Die kerksentrum lyk meer soos ’n winkelsentrum. Daar is nie ’n kruis of ander simbole buite óf binne sigbaar nie. Hybels het verskeie trefferboeke geskryf, soos Rediscovering Church. Verskeie van sy boeke is ook in Afrikaans vertaal, soos Net te besig om nié te bid nie en Lewe met oorgawe.                                        

Sidebar