IDEOLOGIE

IDEOLOGIE is ’n denksisteem waarin ’n sekere idee in so ’n mate verabsoluteer word, dat dit die maatstaf is waaraan alles beoordeel word. Die idee wat as vertrek­punt dien, is vir die voorstanders daarvan so seker, dat dit hoegenaamd nie bevraag­teken word nie. Hulle sien dit gewoonlik so dat hulle alleen die waarheid in pag het. Dit het dikwels betrekking op ’n politieke, sosiale of ekonomiese stelsel, en het meermale ook religieuse (Kyk by: Religie) ondertone. Die volgelinge daarvan sien dit baiekeer as onversoenbaar met enige ander denksisteem. Tipiese voorbeelde van ideologieë uit die 20ste eeu is die kommunisme*, die fascis­me* en die nasionaal-sosialisme*. In die Suid-Afrikaanse samelewing is apartheid* vir dekades lank deur teenstanders daarvan as ’n ideologie-gedrewe stelsel veroordeel. Gedefinieer as ’n stelsel wat onregmatig een groep op rassegronde bo ’n ander bevoor­deel, het dit inderdaad op ’n rassistiese ideo­logie berus.

Vir verdere lees: JA Heyns 1989. Teo­logiese Etiek 2/2. Pretoria: NGKB.

 

Sidebar