IGNATIUS VAN ANTIOGIË

IGNATIUS VAN ANTIOGIË (?–98/117) is die eerste persoon van wie ons weet dat hy ’n biskop* was. Hy was die biskop van Antiogië*. Ons ken Ignatius uitsluitlik deur sewe briewe wat hy geskryf het.

Gedurende die heerskappy van die Romeinse keiser* Trajanus (98–117 nC), word Ignatius gearresteer en onder soldatebegeleiding na Rome* geneem om daar vir wilde diere gegooi te word. Op pad doen hulle Smirna* aan waar Ignatius deur kerkleiers uit die omgewing, onder wie Polikarpos*, besoek word. Op sy verdere pad na Rome skryf Ignatius briewe aan die gemeentes* van Efese*, Magnesia, Tralles en Rome. En later ook aan die gemeentes van Filadelfia* en Smirna, asook ’n sewende brief aan Polikarpos self. Polikarpos sit hierdie briewe in ’n versameling bymekaar, en vertel daarby van Ignatius se marteldood.

Die briewe toon belangrike kenmerke. Eerstens beskryf dit die rol van die biskop as verteenwoordiger van God, wat daarom blindelings deur die gemeente gehoorsaam moet word. Die briewe lê klem op die spi­rituele eenwording van die gelowige met God, en van gelowiges met mekaar. Een­heid in die kerk* sou vir Ignatius beteken dat sy dood nie verniet was nie. Tweedens reageer die briewe teen sekere “ketterye*” van die tyd. Ignatius reageer veral teen die Dosetisme* deur klem te lê op die ware menslikheid van Christus*.

Sidebar