IGNATIUS VAN LOYOLA

IGNATIUS VAN LOYOLA (1491–1556) is bekend as die stigter van die Orde van die Jesuïete (Society of Jesus). Hy is in die kasteel van Loyola in Spanje gebore, en volg as jongman ’n militêre loopbaan totdat ’n deel van sy regterbeen in ’n geveg deur ’n kanonkoeël vergruis word. Terwyl hy in die kasteel van Loyola aansterk, lees hy Ludolf van Sakse se Lewe van Christus, asook an­der lewensverhale van heiliges. Hiermee ver­an­der sy lewe radikaal. Hy trek bedelaar­s­klere aan, tree tot ’n klooster* toe en skryf sy groot werk, Spirituele Oefeninge. Hy reis na heilige plekke en studeer aan belangrike universiteite, en leef slegs van aalmoese.

In 1534 vorm hy ’n groep met ses ander mans en soek die goedkeuring van die pous* om ’n orde te stig. Dit gebeur in 1540 toe die Orde van die Jesuïete amptelik tot stand kom deur ’n bul* van pous Paulus III. Ignatius word in 1548 tot die eerste gene­raal van hierdie orde gekies, en skryf hulle “Konstitusie” wat later beroemd sou word. Baie van sy militêre ervaring vind neerslag in die dissipline wat Ignatius van die lede van die Orde verwag.

Ignatius se bydrae was dat hy godsdiens­tige ywer na die kerk* teruggebring het, dat hy sending*werk buite Europa ’n hupstoot gegee het, en dat hy die opvoeding van die jeug in skole bevorder het. Hy is in 1622 gekanoniseer (Kyk by: Kanonisasie).

 

Sidebar