IKONE

IKONE is plat beelde, gewoonlik met eier­verf op hout geskilder. Dit kan ook van ivoor of gekleurde glas of ander materiale gemaak word. Ikone word in die GrieksOrtodokse*, Katolieke* en Anglikaanse* kerke gebruik om die Persone van die Drieeenheid*, die heiliges, of tonele uit die Bybel* af te teken. Veral in die Grieks-Ortodokse Kerk word geglo dat die heiliges hulle heilsame bystand deur die ikone uitoefen. Daarom word hulle by elke belang­rike gebeurtenis vertoon en eer word deur die Grieks-Ortodokse gelowiges aan hulle betuig. Die ikonostasis in Grieks-Ortodokse kerke is die skerm (wat gewoonlik van hout en ikone gebou is) wat die skip van die kerkgebou van die altaargebied skei. Die ikonoklastiese stryd het in die 8ste eeu in die kerk uitgebreek toe keiser Leo III (717–741) ’n edik uitgevaardig het wat die gebruik van ikone verbied het. Dié edik is deur pous* Gregorius II en die patriarg van Konstantinopel verwerp, en dit het tot min of meer 60 jaar van onstabiliteit gelei. Uiteindelik is die Konsilie van Nisea deur keiserin Irene in 787 byeengeroep en die min of meer 310 biskoppe het besluit dat ikone nie verafgod mag word nie, maar dat hulle die gedagtes van die mens positief rig op die sake wat hulle voorstel. (Kyk ook by: Ikonografie.)

 

Sidebar