IKONIUM

IKONIUM was ’n stad in die suide van die sentrale deel van Klein-Asië, en is deur Paulus* tydens sy drie sending*reise (Hand 13:51; 16:1-5; 18:23) besoek. Ikonium (van­dag: Konya) was vroeg reeds ’n welvarende stad in landbou en handel. Dit was geleë op ’n belangrike kruising wat Rome* en die Griekse stede in Agaje*, Masedonië* en Asië* met Palestina* verbind het.

Van die 3de eeu vC was die Seleukiede verantwoordelik vir Ikonium se vergriek­sing (Kyk by: Grieks). In 25 vC is dit by die Romeinse Ryk* ingelyf toe Galasië* ’n provinsie geword het. Sedert Paulus se sendingwerk was dit ’n Christelike sentrum, tot die Islamitiese* verowering daarvan in 708 nC.

Tydens sy eerste sendingreis is Paulus uit Antiogië* in Pisidië* verdryf en het hy na Ikonium gevlug waar dieselfde gebeur het. Op sy terugreis, sowel as tydens sy tweede sendingreis, en moontlik die derde, het Paulus die gelowiges in die stad bemoedig. Ikonium, Listra*, Derbe* en Antiogië, was waarskynlik die ontvangers van die brief aan die Galasiërs*. Ikonium was moontlik Timoteus* se tuisdorp.

Sidebar