IKONOGRAFIE

IKONOGRAFIE. Die term “ikoon” is van ’n Griekse* woord afgelei wat prentjie of voorstelling beteken. Ikone* is daarom ’n gra­fiese voorstelling of simbool wat ’n ob­jek voorstel of verteenwoordig. Ikonogra­fie is ’n stelsel van sulke simbole of prentjies wat sekere essensiële aspekte of elemente van ’n kultuur of godsdiens voorstel. Hiëro­gliewe (die prentjieskrif van Egipte*) is ook ’n vorm van ikonografie, waar woorde en begrippe deur ikone of skematiese prentjies voorgestel is.

In die meeste godsdienste, insluitend die Christendom*, speel ikone ’n belangrike rol in die grafiese “dokumentasie” van die godsdiens se belangrikste elemente. Ikone het veral tydens die Middeleeue ’n belang­rike rol in die Katolieke*, Russies- en Grieks-Ortodokse* kerke gespeel, en dit is in mindere of meerdere mate steeds die geval. Die studie van ikonografie vorm ’n belangrike element van die bestudering van meeste godsdienste.

Ikonografie van beelde, prente en ander voorstellings uit die Ou Nabye Oosterse om­ge­wing kan ook meehelp om sommige Bybel*tekste beter te verstaan en voor te stel.

Sidebar