IMMANENSIE VAN GOD

IMMANENSIE VAN GOD. Die immanensie van God verwys na die alomteen­woordigheid van God in die skepping* en maak dus ’n wesenlike deel uit van die Christelike Godsidee. Hierdie belangrike leerstelling word gewoonlik in balans gehou deur die parallelle leerstelling van die transendensie* van God. Die teologiese begrippe immanensie en transendensie gee dus uitdrukking aan die oortuiging dat, enersyds, God se alomteenwoordigheid die wêreld wesenlik deurdring en onderhou deur God se almag, en, andersyds, dat God tog ook radikaal anders en onderskeie is van die wêreld en nie onmiddellik bereikbaar of toeganklik is vir enige menslike kennis nie. Sonder die gepaardgaande idee van God se transendensie, sou immanensie maklik tot vorms van panteïsme* en panenteïsme* kon lei, waar God volledig, of gedeeltelik, met die skepping en die geskiedenis van die skepping geïdentifiseer word. Uit die perspektief van die gerefor­meerde* teologie*, word die skerp fokus op God se immanensie in die verskillende vorms van prosesteologie gewoonlik as panteïsties gedui. Tans is daar ’n belangrike herlewing in die teologie van ’n meer ge­nuanseerde weergawe van immanensie waar die skepping as die “liggaam van God” ge­sien word, terwyl God terselfdertyd ook méér as die skepping is. Hierdie vorm van panenteïsme word veral in die werk van teoloë soos Arthur Peacocke en Philip Clayton gevind.

Sidebar