IMMANUEL

IMMANUEL is ’n simboliese naam in Hebreeus* en beteken: “God by ons”. Dit kom vier keer voor: Jes 7:14, in Matt 1:23 aangehaal, Jes 8:8 en 10. In Jes 7:13-14 gee die Here* vir die geslag van Dawid* en vir koning Agas* (wat nie van die Here nie, maar van die koning van Assirië* hulp verwag) ’n teken: ’n jong vrou sal swanger word. In Jes 7 verwys dit waarskynlik na die geboorte van Hiskia* uit Abi, die dogter van Sagaria, wat op grond van haar Gods­vertroue die kind Immanuel, “God by ons” (sien Jes 8:10), sal noem. In die Ou Testa­ment* is hierdie uitdrukking telkens ’n verwysing na die troue God van die verbond* se helpende teenwoordigheid. Hierdie pro­fesie* is nie ’n direkte verwysing na die Mes­sias* se geboorte nie. Die teken kan ook dreigend verstaan word (Jes 7:15-8:15) as God se oordeel* oor die huis van Dawid. Die ballingskap* in Matt 1:1-17 se geslagslys kry dan besondere betekenis gesien die belangrike rol van die ballingskap in Jes 6:12, terwyl Immanuel se lyding in Jesaja* as voorafskaduwing dien van Jesus* se lydensweg. Volgens Matt 1:23 word die teken eindelik in Jesus as Immanuel vervul. Die hele Matteus-Evangelie* teken Jesus as Immanuel, “God by ons”.

Vir verdere lees: Bybelgenootskap van Suid-Afrika: “Immanuel” 1998. Ver­wy­singsbybel 1983-vertaling: Band 2 Naslaanmateriaal. Kaapstad.

 

Sidebar