IMPERIALISME

IMPERIALISME het te maak met die ver­oweringsdrang van lande en die gevolg­like uitbreiding van hulle mag na ander wêrelddele. Deur sy tegniese, militêre en ekonomiese oormag was Europa vroeg reeds in staat om gestalte te gee aan die drang tot uitbreiding. ’n Uiters weerspre­kende aspek van Europese imperialisme was nog altyd die verskynsel dat handel – wat saam gegaan het met imperialisme en kolonialisme* – en Christelike sending* me­de­reisigers was. In die periode tussen 1870 en 1914 het die verowering van ander lande deur Europese nasies in die stroomversnelling gekom. Daar word allerweë vier oorsake van imperialisme aangevoer. Eers­tens is daar ekonomiese motiewe wat met die industriële omwenteling verband hou. Tweedens is daar nasionalisme. Derdens word die soeke na ’n magsewewig as oorsaak genoem. ’n Grondliggende oorsaak van imperialisme is die Europese gevoel van meerderwaardigheid en die drang om die Europese beskawing onder wat beskou is as die heidense* barbare te vestig. Objekte van die Westerse imperialisme se pogings tot weerstand het gestrand teen die meer gesofistikeerde wapentuig van die Weste. In die 20ste eeu het Oosterse lande soos Japan en Rusland in ’n stadium ook sterk imperialistiese neigings geopenbaar, soos China in ’n sekere sin in die 21ste eeu. Die dialektiek (“regverdiging”) van die Westerse imperialisme is daarin geleë dat mense uit die verowerde lande ’n Westerse onderwys ontvang het en gevolglik met die ideale van nasionale onafhanklikheid, demokrasie* en ekonomiese vooruitgang in aanraking ge­kom het.

Sidebar