IN CHRISTUS

IN CHRISTUS is ’n besonder betekenis­volle Nuwe-Testamentiese uitdrukking wat hoofsaaklik in die Paulusbriewe voorkom. By Paulus* is dit so prominent dat baie skrywers meen dat “in Christus” die kern van Paulus se boodskap uitmaak. Gods­diens-historici het beweer dat ons hier met volbloed mistiek* te maak het: gelowiges* se gees versmelt tot ’n eenheid met Chris­tus*. Daarteenoor was Deissmann se standpunt heel tereg dat dit nié oor mistieke eenwording gaan nie, maar oor ’n baie persoonlike Christusbelewenis waarin gelowi­ges* nog steeds hulle eie identiteit behou.

“In Christus” dui aan dat Christus nou die “lewensruimte” is waarin gelowiges bestaan. Hulle was vroeër “in die sonde*”, “in hulle ou, sondige natuur” en is beheer deur die sonde. Nou is Christus hulle allesbepalende nuwe lewenswerklikheid: “Daar­om, as iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel. Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword” (2 Kor 5:17 – Nuwe Testament en Psalms – ’n Direkte Vertaling, 2014). Hierdie Christusverbondenheid is so ’n deurleefde, lewensveranderende werklik­heid dat Paulus die “ons in Christus” ook kan omdraai na “Christus in ons”. Daarom kan hy verklaar: “Met Christus is ek gekruisig; ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my!”(Gal 2:19-20 – Nuwe Testament en Psalms – ’n Direkte Vertaling, 2014).

 

Sidebar