IN VITRO-BEVRUGTING

IN VITRO-BEVRUGTING (letterlik: in glas-bevrugting) is die mediese prosedure wat benut word om swangerskap op ’n kunsmatige manier te bewerkstellig. Be­vrug­ting word buite die baarmoeder be­werkstellig deur sperm (van die eggenoot of ’n skenker) en ’n aantal eierselle in ’n glasbakkie met vloeistof bymekaar te bring. Die eierselle word verkry deur hormoonbehandeling en die afsuig van ’n aantal ryp eierselle van die vrou se eierstokke met behulp van ’n naald wat deur die maagwand gesteek word. ’n Hele paar van die in vitro-bevrugte embrio’s word in die baarmoeder teruggeplaas, omdat die kans op swangerskap gering is. Die res word gevries vir geval die prosedure nie die eerste keer slaag nie.

Die blote feit dat swangerskap op ’n kuns­matige manier bewerkstellig word, maak in vitro-bevrugting vir die Katolieke Kerk* van die staanspoor af moreel onaanvaarbaar. Die meeste Protestantse* kerke het nie ’n probleem met die kunsmatigheid daarvan nie. Hulle het egter morele besware as die sperm van ’n skenker wat nie die eggenoot is nie, gebruik word. Die Christelike opvatting van die huwelik* behels na hulle mening dat slegs die egpaar by die verwekking van kinders betrokke behoort te wees. Die feit dat daar dikwels gevriesde embrio’s oorbly ná die suksesvolle afloop van die prosedure, is vir sommige kerke ook ’n kompliserende faktor.

Vir verdere lees: G Meilaender 1996. Bio-ethics: A Primer for Christians. Grand Rapids: Eerdmans.

 

Sidebar