INCLUSIVE AND AFFIRMING MINISTRIES (IAM)

INCLUSIVE AND AFFIRMING MINISTRIES (IAM) het in 1999 die naam van die destydse Gay and Lesbian Outreach geword, ’n organisasie wat in 1996 onder leiding van Pieter Oberholzer* gestig is. IAM bestry homofobie* en diskriminasie teen homoseksuele* mense in die Christe­like gemeenskap. Met talryke projekte word kerke in Suidelike Afrika aangemoedig om hulle siening en houding ten opsigte van homoseksualiteit in heroorweging te neem. IAM is betrokke by etlike ad hoc-studie­kom­missies oor homoseksualiteit in hoofstroomkerke. IAM wil dialoog bevorder, help met opleiding en toerusting van sowel die homoseksuele as die kerklike gemeenskap, bied pastorale ondersteuning aan, doen navorsing en dra by om ’n media-bewustheid te skep. Judith Kotzé dien as direkteur van IAM (2015). ’n DVD-dokumentêr, Created in the image of God, is sedert 2003 wyd onder kerklui in Suid-Afrika versprei.

 

Sidebar