INDIKATIEF/IMPERATIEF-VERHOUDING

INDIKATIEF/IMPERATIEF-VERHOUDING. Indikatief en imperatief is twee terme waarmee twee vorms of modi van ’n werkwoord aangedui word. ’n Werkwoord in die indikatief-modus beskryf ’n handeling wat plaasvind, bv: “Die man skop die hond.” ’n Werkwoord in die imperatief-modus beskryf ’n opdrag om ’n handeling uit te voer, bv: “Skop die hond, man!” Dit kan eenvoudig verduidelik word deur te sê die indikatief-modus beskryf wat is of gebeur, terwyl die imperatief-modus beskryf wat moet gebeur. Of nog eenvoudiger: die verhouding tussen is (indikatief) en moet (imperatief).

Die Protestantse* teologie* beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan dat die regte verhouding tussen die indikatief en impe­ratief gehandhaaf moet word, en dié regte verhouding is dat die indikatief die grondslag lê vir die imperatief. In die Bybel* sê God eers aan mense wie en wat hulle in Christus* is, en dan, op grond daarvan, wat hulle moet doen. God maak eers ’n verbond* met Israel* en verseker hulle dat Hy hulle God is, en hulle sy volk, en dán eers stel Hy vereistes hoe Israel moet lewe. God red éérs sy volk uit slawerny* in Egipte* (indikatief) en dán gee Hy hulle sy wet* by Sinai*2 wat hulle moet hou (imperatief). In die briewe* van Paulus* kan dié verhouding goed raakgesien word: Rom 1–11 verduidelik hoe God uit genade* heiden* sowel as Jood* regverdig*, en dán volg in Rom 12–16 die vereistes oor hoe die gelowiges* moet leef. So ook kry gelowiges in Efesiërs eers die versekering dat hulle saam met Christus gesterf en opgestaan het, en dat God in die kerk* Jood en nie-Jood verenig het, en daarna word die Efesiërs vermaan dat hulle “lewenswandel in ooreenstemming (moet) wees met die roeping wat julle van God ontvang het” (Ef 4:1). Indien die verhouding omgekeer word, en die imperatief (wat gelowiges moet doen) eerste staan, loop die Christelike geloof* gevaar om in moralisme te verval.

 

Sidebar