INDIWIDUALISME

INDIWIDUALISME is ’n standpunt wat neerkom op die verabsolutering van die belangrikheid van die mens as indiwidu. Dit is as standpunt veral invloedryk in die politieke, sosiale en ekonomiese denke. In die politieke filosofie het John Stuart Mill byvoorbeeld aangevoer dat die enigste grond waarop ’n regering mag inmeng in die privaatlewe van indiwidue, die kere is wanneer mense vir ander mense ’n bedreiging word. ’n Regering mag egter nie inmeng op grond van wat beskou word as die beste belang van die indiwidu nie – daaroor kan slegs die indiwidu self besluit.

In die ekonomiese denke word indiwi­dualisme veral verbind aan die denke van Adam Smith, en met name sy boek An Inquiry in the Nature and Causes of the Wealth of Nations. Smith argumenteer in hierdie werk dat die vryemarksisteem die enigste is waarop ’n werkbare en suksesvolle ekonomie gebaseer kan word. As elkeen sy eie indiwiduele ekonomiese be­lang soek, werk die mark met ’n “onsigbare hand” om die grootste voordeel vir almal te bereik. Indiwidualisme word veral gekritiseer deur diegene wat aanvoer dat ons menslike identiteit en belang nie slegs bevorder word deur die sorg van eiebelang nie, maar ook deur ons solidariteit met ander mense of kollektiwiteite.

Vir verdere lees: A Smith 1979. An Inquiry in the Nature and Causes of the Wealth of Nations. Oxford: Clarendon Press.

 

Sidebar