INHEEMSWORDING.

INHEEMSWORDING. Die “drie-selwe-beweging*” in die kerk* beklemtoon kriteria wat met die organisasie en bestuur van die kerk te doen het. Dit is ’n vorm van in­heemswording wat veral in die Engelse en Amerikaanse wêreld van die 19de eeu gevolg is. Die Europese wêreld, veral die Duitse romantiek*, het die klem gelê op die volk* en kultuur* en die eie aard van die “volksiel”. Inheemswording het meer te doen met die Duitse benadering. Dit wil op ’n meer fundamentele vlak met die kultuur besig wees as slegs die akkommodasie* van los aspekte van ’n kultuur. Die doel is om die evangelie* in ’n kulturele vorm of kleed aan te bied wat nie vreemd aan die betrokke mense is nie. Dit kan op verskillende maniere gedoen word: Deur belang­rike idees of begrippe in ’n nie-Christelike godsdiens aan die Christelike evangelie* te koppel, of om die evangelie aan te bied as die volle antwoord op dit waarna mense in ’n bepaalde religie nog altyd gestreef het, of om die essensie van die bepaalde religie te ontdek en te gebruik as onderbou van ’n Christelike leer en belydenis. So gebruik Tempels die idee van “lewenskrag” in sy benadering en Bruno Gutmann* het met “die verwantskappe” gewerk. Laastens het sommige teoloë die begrip possessio ge­bruik: Die Christelike geloof pas nie aan by heidense lewensvorms nie, maar neem dit in besit, gebruik dit en vernuwe dit (H Bavinck*) – “kersten” dit. Inheemswording hou vir die kerk risiko’s in, maar om nié inheems te word nie, is nog meer skadelik. Inheemswording kan nooit afgehandel wees nie, want die kultuur verander gedu­rig. (Kyk ook: Kommunikasie en sending, en: Inkulturasie.)

Sidebar