INKULTURASIE

INKULTURASIE en bevrydingsteologie* is die belangrikste twee vorms van konteks­tuele teologie*. Dit is die eerste keer in 1962 gebruik, hoewel die saak self van die begin af deel van die evangelieboodskap was. Die evangelie* bestaan nêrens sonder dat dit in ’n kultuur* vergestalt is nie. In die Konstan­tynse* periode is die Christelike geloof* só met die Westerse kultuur geassosieer dat die Westerse kultuur as die Christelike kultuur beskou is. Vanaf die 16de eeu het die Westerse kerk* na ander kulturele omge­wings uitgebrei. Die meeste mense het gedink dat Christene uit ander kulture die Westerse kultuur moes oorneem, maar geleidelik het die besef gegroei dat die Westerse kerk self krities met sy kulturele konteks moes omgaan, en dat die kerk in ander kulture nie as ’n vreemde, Westerse gestalte kon verskyn nie. Inheemswording is ’n poging om hierdie vreemdheid te oorkom. Waar die sendelinge* nog die hoofrol gespeel het in inheemswording, breek inkulturasie met ’n Eurosentriese benadering. Die evangelie word in ’n kul­tuur en konteks geïnkarneer, en moet sy eie pad in daardie konteks vind. Die gelowiges in die konteks en dié van buite (bv sendelinge) word gelyke vennote in die proses. Die kerk word nie bloot uitgebrei na die nuwe konteks nie, dit word daar “nuut gebore”. Waar vorige modelle met die idee van ’n bo-historiese “kern” en ’n kontekstuele “omhulsel” of “kleed” gewerk het, werk inkulturasie met die idee van ’n saad wat in ’n plaaslike kultuur en konteks geplant word en daar wortel skiet. Dit is omvattend, met ander woorde kulturele sowel as politieke, sosiale en ander aspekte word in ag geneem. Dié benadering word deur sowel die Katolieke* as Protestantse* sending ondersteun. Soos met die ander benaderings, moet inkulturasie nie die eenheid en identiteit van die kerk bedreig nie. (Kyk ook: Sending en kultuur.)

 

Sidebar