INKWISISIE

INKWISISIE kom van die Latynse woord inquisitio wat beteken om ondersoek te doen. As eienaam – “Die Inkwisisie” of “Die Pouslike Inkwisisie” – is dit ’n spesiale internasionale hof wat in 1231 deur pous Gregorius IX ingestel is om dwaalleraars te vervolg. Die kerklike leer wat deur konsilies vasgestel is, moes teen dwaallering* beskerm word – hiervoor sou die Inkwisisie uiteindelik gebruik word. Die pous* het die lede van die kerklike hof benoem wat alle dwaal­leer moes ondersoek, terwyl die vonnisse en straf op die dwaalleer deur seku­lêre howe toegepas moes word. Die In­kwisisie het onder meer berug geraak om­dat marteling toegelaat is om aangeklaag­des tot belydenis van hulle skuld te bring. Indien mense aan dwaalleer skuldig bevind is of daarin volhard het, is hulle ter dood veroordeel. Die Inkwisisie was veral aktief in Frankryk, Spanje en Portugal hoewel dit ook in ander lande soos Nederland gefunksioneer het. (Die Spaanse Inkwisisie was nie onder die jurisdiksie van die pous nie, maar van die koningshuis van Spanje.) In 1542 is die Inkwisisie gesentraliseer in die sogenaamde Congregatio inquisitionis terwyl die Congregatio indicis – die boekesensuur – ook tot hulle taak gevoeg is. Die Inkwisisie van die Katolieke Kerk* het op hierdie manier bly voortbe­staan en funksioneer tot aan die einde van die 18de eeu.

Vir verdere lees: Karel Blei 2002. Freedom of Religion and Belief: Europe’s Story. Assen: Royal van Gorcum. D Nauta 1959. “Inquisitie” in: FW Grosheide en GP Itterzon (red), Christelijke Encyclopedie, Deel 3. Kampen: Kok.

Sidebar